Die Sunshine Selfloper

Die gerestoureerde Australiese Sunshine selfloper (ex Thys Swart) was van die eerste suksesvolle selflopers wat gemaak is. En dit sê baie vir die mededingendheid van die Australiese nywerhede, want vir baie jare was die die Amerikaners die bedreiging vir alles en almal wat die wêreldmarkte t.o.v. landboumeganisasie wou betree.

Die eerste Australiese oesmasjien wat ‘n kombinasie van ‘n sny- en ‘n dorsmasjien was, is in 1884 deur James Morrow gepatenteer. Hoewel Hugh Victor McCay, die grondlegger van die Sunshine fabrikaatnaam in baie kringe die krediet vir die eerste kombinasie kry, het hy in werklikheid eers die volgende jaar sy ontwerp afgerond en gepatenteer.

Maar die werklik suksesvolle Sunshine stropers, die soort wat ‘n instelling op die graanlande in veral die Wes-Kaap was, is die ontwerp van Headlie Shipard Taylor (1883—1957). (Emile Cronjé, die groot versamelaar van Brakfontein, Riversdal, praat van sy oudste Sunshine as die HST! Nou weet ons hoekom.)

Die feit dat H.V. McKay baiekeer die krediet vir die bekende reeks Sunshine stropers kry, is amper ’n soortgelyke situasie as in die geval van Heinrich Lanz (een van die grootste nyweraars in voor-oorlogse Duitsland) wat vir baie mense die uitvinder van die Lanz-trekker is, terwyl die legendariese gloeikopenjin in die “onbreekbare” trekker eintlik die breinkind van dr. Fritz Huber was.

Taylor was geniaal, al het hy as veertienjarige die skool verlaat en op sy ouers se koring– en skaapplaas gaan werk. Hy was terdeë bewus van die tydsame oesproses – sny koring met die snymasjien, hoopdra, gerwe inry, dors – en wou dit verbeter, en om dit te kon doen, moes hy sy ingenieurskennis uitbrei, iets waarin hy uitstekend geslaag het as sy uitvindings ondersoek word.

1910 — Taylor registreer sy eerste patent;
1913 — die basiese konsep van sy later suksesvolle stroper gepatenteer: die kam, die wederkerende mes en die draaiende silinder met die getande flens wat die strooi inkrap;
1917 — optellers vir die eerste keer gebruik;
1924 — die eerste poging om ‘n selfloper te maak;
1929 — Taylor vestig die Sunshine fabriek (vir McKay) in Kanada;
1934 — die Sunshine “TD stripper” (Thys Swart s’n) kom op die mark;
         [In dieselfde jaar het Thys se vader hul eerste een gekoop.] 1953 — ’n herontwerpte selfloper gemaak

McKay se fabriek het stropers vervaardig, maar toe hy ‘n demonstrasie van Taylor se stroper bygewoon het, het hy onmiddellik die waarde en voordeel daarvan besef en die patentreg daarop bekom. Taylor is aangestel as bestuurder van die fabriek waar sy ontwerp vervaardig is. Toe Sunshine se aktiwiteite na Kanada uitgebrei het, is Taylor daarheen om die fabriek te vestig. Nie sleg vir ’n outodidak nie!

Sunshine stropers het nooit werklik van Taylor se oorspronklike konsep afgewyk nie.

Maar om met die Sunshine selfloper te werk, was nog nooit ‘n grap nie – een van die drie staalwiele dryf aan, die stuurwiel sit min of meer langs die bestuurder en die hoogte van die snytafel word meganies beheer! Dit word vertel dat ‘n kettingtrekker moes help koers hou as die oeslande te steil was.

Copyright © 2015 Wes-Kaap Veteraan- Trekker- en Enjinklub. All Rights Reserved.