Restourasie Projekte

Die Sunshine Selfloper

Die gerestoureerde Australiese Sunshine selfloper (ex Thys Swart) was van die eerste suksesvolle selflopers wat gemaak is. En dit sê baie vir die mededingendheid van die Australiese nywerhede, want vir baie jare was die die Amerikaners die bedreiging vir alles en almal wat die wêreldmarkte t.o.v. landboumeganisasie wou betree.

Die eerste Australiese oesmasjien wat ‘n kombinasie van ‘n sny- en ‘n dorsmasjien was, is in 1884 deur James Morrow gepatenteer. Hoewel Hugh Victor McCay, die grondlegger van die Sunshine fabrikaatnaam in baie kringe die krediet vir die eerste kombinasie kry, het hy in werklikheid eers die volgende jaar sy ontwerp afgerond en gepatenteer.

Maar die werklik suksesvolle Sunshine stropers, die soort wat ‘n instelling op die graanlande in veral die Wes-Kaap was, is die ontwerp van Headlie Shipard Taylor (1883—1957). (Emile Cronjé, die groot versamelaar van Brakfontein, Riversdal, praat van sy oudste Sunshine as die HST! Nou weet ons hoekom.)

Die feit dat H.V. McKay baiekeer die krediet vir die bekende reeks Sunshine stropers kry, is amper ’n soortgelyke situasie as in die geval van Heinrich Lanz (een van die grootste nyweraars in voor-oorlogse Duitsland) wat vir baie mense die uitvinder van die Lanz-trekker is, terwyl die legendariese gloeikopenjin in die “onbreekbare” trekker eintlik die breinkind van dr. Fritz Huber was.

Taylor was geniaal, al het hy as veertienjarige die skool verlaat en op sy ouers se koring– en skaapplaas gaan werk. Hy was terdeë bewus van die tydsame oesproses – sny koring met die snymasjien, hoopdra, gerwe inry, dors – en wou dit verbeter, en om dit te kon doen, moes hy sy ingenieurskennis uitbrei, iets waarin hy uitstekend geslaag het as sy uitvindings ondersoek word.

1910 — Taylor registreer sy eerste patent;
1913 — die basiese konsep van sy later suksesvolle stroper gepatenteer: die kam, die wederkerende mes en die draaiende silinder met die getande flens wat die strooi inkrap;
1917 — optellers vir die eerste keer gebruik;
1924 — die eerste poging om ‘n selfloper te maak;
1929 — Taylor vestig die Sunshine fabriek (vir McKay) in Kanada;
1934 — die Sunshine “TD stripper” (Thys Swart s’n) kom op die mark;
         [In dieselfde jaar het Thys se vader hul eerste een gekoop.] 1953 — ’n herontwerpte selfloper gemaak

McKay se fabriek het stropers vervaardig, maar toe hy ‘n demonstrasie van Taylor se stroper bygewoon het, het hy onmiddellik die waarde en voordeel daarvan besef en die patentreg daarop bekom. Taylor is aangestel as bestuurder van die fabriek waar sy ontwerp vervaardig is. Toe Sunshine se aktiwiteite na Kanada uitgebrei het, is Taylor daarheen om die fabriek te vestig. Nie sleg vir ’n outodidak nie!

Sunshine stropers het nooit werklik van Taylor se oorspronklike konsep afgewyk nie.

Maar om met die Sunshine selfloper te werk, was nog nooit ‘n grap nie – een van die drie staalwiele dryf aan, die stuurwiel sit min of meer langs die bestuurder en die hoogte van die snytafel word meganies beheer! Dit word vertel dat ‘n kettingtrekker moes help koers hou as die oeslande te steil was.

Restourasie van Fairbanks-Morse Enjin

Ek is ‘n meganiese ingenieur wat na dertig jaar se arbeid, agt jaar gelede besluit het om my aan die natuurelemente bloot te stel, en tussen Caledon en Greyton te begin boer.

Op ons familieplaas, Dwaalhoek, nie ver van my plaas, het my oupa se Fairbanks-Morse Tipe Z enjin die afgelope sestig jaar in die lang gras toegegroei gestaan en gewag om gerestoureer te word. Die enjin is in 1915 van Duffet & Koch, Kaapstad aangekoop en het aanvanklik ‘n dorsmasjien en later ‘n koringmeul, aangedryf. Dit is ‘n enkelsilinder, horisontale, 10 perdekrag, 350 o.p.m. kragparaffien enjin. Dit is op ‘n onderstel gemonteer (“portable oil engine”), sodat dit met trekvee na ‘n volgende werkplek gesleep kon word.

Ongeveer vyf jaar gelede het my broer, wat op Dwaalhoek boer, goedgunstiglik die enjin by my kom aflewer. Dit was redelik volledig, maar baie erg geroes en sekere dele beskadig. Die krukas kon nie draai nie omdat die suier vasgeroes en die silinder steeds vol water was.

Terwyl ek besig was om moed bymekaar te skraap vir die enjin, het ek ‘n Willys CJ-2A Jeep inmekaargesit, en het die gogga my gebyt! Ongeveer twee jaar gelede het ek die masjien begin uitmekaarhaal. Die grootste struikelblok was die suier. Ek het die silinder vertikaal laat staan, en diesel, remolie, paraffien, roesolie, ens. om die beurt op die suier laat staan en terselfdertyd deurlopend met ‘n domkrag drukkrag uitgeoefen. Na maande van hierdie weekproses, het ek die suier by Niel’s Engineering in Caledon, laat uitpers. Die suier was relatief ongeskonde en die silinder ook herstelbaar. Een van die suierringe was gebreek, en die ander twee feitlik 50% weggeslyt weens ‘n halfeeu tevore se harde arbeid! Ashro, ‘n afdeling van Atlantic Manufacturing in Pretoria, het volgens my telefoniese voorskrifte, ‘n pragtige stel nuwe ringe vervaardig!

Verskeie onderdele, onder andere die wiele, brandstoftenk, oliepyp, brandstofpomp, ens., was erg beskadig of onherstelbaar. Dit wat ek self nie kon herstel nie, is deur Niel’s Engineering herstel of vervaardig. (Die tydrowendste taak was natuurlik skoonmaak en skuur!)

In Oktober 2009 was die taak voltooi, en het die enjin met die eerste probeerslag gevat. (Die oorspronklike Champion vonkprop is weer in gebruik!)

Dis ‘n wonderlike stokperdjie om op reëndae of naweke te beoefen, en veral twee aspekte staan vir my uit: (a) die bevrediging om weer lewe in ‘n hoop skrootyster te blaas, en (b) die geduld en vasbyt wat dit jou leer.

Ek is nou met ‘n 1945 Caterpillar D2 besig, waarna ‘n McCormick 22-36 trekker van 1930 en nog ‘n D2 wag!

Foto’s en artikel deur Jannie Fourie

Copyright © 2015 Wes-Kaap Veteraan- Trekker- en Enjinklub. All Rights Reserved.