Ploegdae

En hulle hét geploeg in die Swartland

Vir jare al is die ploegdag in die Swartland ‘n belangrike dag op die kalender. Eers was Welgemeen, plaas van klubvoorsitter Fanie Basson die plek, maar vanjaar is ‘n ander terrein gekies.

Op Saterdag 25 Julie het die jaarlikse ploeëry weer plaasgevind, en die deelname en opkoms was die regte beloning vir die moeite wat hulle gedoen het om alles te laat werk. Ongeveer 40 trekkers is getel, 18 voertuie, en dan was daar die nuutjie — Patat Basson se spannetjie perde voor die ploeg.

Die dag was ideaal. Vergete was die modderige toestande en vassitkompetisies van die verlede. Vanjaar was 150ha sanderige grond beskikbaar – net wat nodig is vir so ‘n spelery. Uit Kuilsrivier, Darling en Piketberg het versamelaars en restoureerders gekom om die Swartland-Klub se groot dag mee te maak. En nog wyer as bg. plekke die besoekers, want die Swartlanders se reklame het ook op vrugbare grond geval...

Positiewe terugvoer was daar baie, sê die organiseerders. Besoekers het gehou van die etes, stalleltjies, die groot tent, ensovoorts. Ook die uitstallers (borge) soos Andrag, MKB, Northmec en Perdeberg Motors (Isuzu) gee uitstekende terugvoer m.b.t. suksesvolle demonstrasies en goeie blootstelling van hul produkte.

Die Heritage Trust met hul klere, voertuie en wapenrusting uit veral die Tweede Wêreldoorlog, het baie lekker gekuier — het die Vrydag al gearriveer — en lekker geld gemaak met hul lekker worsies. Die kos het báie lekkerder gesmaak as die “armykos” wat baie van ons lede geken het!

Nog ‘n ding van die Swartlanders: hulle weet van pryse versamel en uitdeel. Vanjaar is ‘n wisseltrofee vir die beste ploeër te wen. Dit was immers ‘n ploegdag.

Die Swartland was nog al al die tyd John Deere wêreld, en hierdie foto bewys dit.

 

'n Ploegdag is vir baie mense 'n gesinsding. Oupa Jannie Lambrechts van Riebeek-Wes het spesiaal hul Mc Cormicks gebring dat hy en Jannico saam kan deelneem.

 

Nog 'n trekker wat diep spore in die Swartland getrap het, was die Case LA. Daarsonder sou 'n ploegdag ook nie 'n ploegdag kon wees nie.

 

Frikkie van Heerden se John Deere kon maklik die prys vir die netjiesste trekker gekry het.

 

Freddie Truter se Ferguson met die rusperbande het baie aandag getrek.

 

Vir baie mense was dit 'n aangename verrassing om 'n versamelaar van Darling, Nico Loubser, se trekkers te sien.

Al glinster 'n juweel nie, bly dit steeds 'n juweel...

Een van die oudste trekkers wat geploeg het, was die Hanmag 30 van Fanie Basson.

Patat Basson van Malmesbury se span voor die ploeg sal op enige plek 'n trekpleister wees.

Copyright © 2015 Wes-Kaap Veteraan- Trekker- en Enjinklub. All Rights Reserved.