Enjindae

Eerste enjindag van die Piket Klub baie suksesvol

Die eerste enjindag van die Piket Klub is op Saterdag 22 Augustus op De Glebe, plaas van die klubvoorsitter, Gerick Vercuiel, aangebied. Dit is baie goed deur klublede ondersteun. Nie minder nie as 56 enjins is uitgestal – die oorgrote meerderheid in ‘n uitstekend werkende toestand, maar almal so interessant soos kan kom. Die kleinste, ‘n wasmasjinenjintjie is beduidend kleiner en ligter as die suier van die grootste, ‘n 50 pk. Blackstone, wat op sy dag ‘n klipmeul op die plaas Diamant in die Agter-Paarl aangedryf het.

Die gedagte van die enjindag het jare gelede by ‘n klublid van Koringberg, Pieter Fourie, ontstaan en het onder leiding van die klubvoorsitter, Gerick Vercuiel, en die samewerking van sy lojale klublede, ‘n eerste met ‘n knal beleef. Die knal was letterlik ook, want die verrigtinge is begin met die afvuur van ‘n egte kanon uit die tyd van die VOC.

Omdat die beoordelaars vir die dag nie groot voorstanders van die beoordeling van enjins is nie, het hulle eerder pret-kategorieë ingestel soos die enjin wat hulle self die graagste wil besit, die enjin wat volgende jaar behoort te werk, en dies meer. Hierdie idee het baie bygedra tot die aangename gees wat geheers het.

Andy Selfe van Grabouw, die groot gees onder die restoureerders en versamelaars van antieke enjins in die Wes-Kaap, is ook die korrespondent van ‘n Britse tydskrif wat in veteraanmasjiene spesialiseer, The Stationary Engine Magazine. Hy het reeds sy artikel ingestuur, wat beteken dat entoesiaste wêreldwyd sal kan lees oor die groot bewaringsprestasie op Piketberg.

Gerick se Case staan eensaam en alleen - dis mos vandag 'n enjindag!

Pieter Fourie, die man by wie die idee van 'n enjindag ontstaan het.

Drie van die main-manne (van links): Gerick Vercuiel, plaaaseienaar en voorsitter van die Piket Klub, Philip Gray-Tailor en Andy Selfe (beoordelaars).

Dis 'n ejindag, en 'n stoomenjin is 'n enjin, al is dit 'n miniatuur(tjie).

Die beste implement was hierdie wynpomp van Gordon Riley van Koringberg, maar die vloeistof in die pyp is nie wyn nie...

Drie geslagte versamelaars bymekaar: Oom Nicolaas, Johnny (snr.) en Johnny (jnr.) Hanekom van Citrusdal.

Bertie Smit van Citrusdal by sy Catterpillar stilstaande enjin. Bertie is vereer vir die entoesiasme waarmee hy sy uitstalling bedryf het.

Pierre Visser (snr. en jnr.) by een van die twee enjins wat hulle spesiaal gaan "uitgrawe" het om hul deel vir die enjindag te doen.

Copyright © 2015 Wes-Kaap Veteraan- Trekker- en Enjinklub. All Rights Reserved.