Ekspos en Skoue

Onthou Jy Nog?

Uitstallings van erfgoed het geweldig in gewildheid toegeneem sedert dit ‘n permanente afdeling op Wes-Kaapse ekspo’s geraak het. Alle persoonlike versamelings van klein erfgoed is welkom, maar ‘n hedendaagse tendens is dat uitstallings toenemend volgens bepaalde temas aangebied word.

‘n Volgende uitvloeisel van dié tipe uitstalling was dat “vergete vaardighede” met baie groot sukses op Villiersdorp gedemonstreer is. Dié vaardighede het witblits stook, kaiings uitbraai en moskonfyt kook ingesluit, asook ‘n uitstalsaal met ‘n aanbieding wat die sagtevrugtebedryf van die jare her in herinnering geroep het.

Pierre du Toit

Pierre du Toit (links) en Willem Roux het ‘n museumuitstalling van toerusting wat in die beginjare van meganisasie in die sagtevrugtebedryf aangebied. Dit is deur veral druk deur gesinne besoek. Die vrugte wat uitgedeel is, was ook ‘n groot treffer.

Gerestoureerde Appelsorteermasjien

Een van die interessante items in die “vrugtebedryfmuseum” was hierdie eeuoue gerestoureerde appelsorteermasjien wat nog met die hand gedraai is. Dis een van die items in die uitstalling waarvan die werking gedurig gedemonstreer is.

Appelskiller

Nog ‘n interessante item van die vrugtebedryf was ‘n appelskiller wat gebruik is om op groot skaal appels vir droog te skil.

Moskonfyt op Robertson

Eens op ‘n tyd was Villiersdorp bekend vir die moskonfyt wat op groot skaal op die dorp gekook is. ‘n Span uit Robertson het moskonfyt op die ekspo gekook en besoekers op gratis snye brood (net daar gebak) met kaiings en moskonfyt getrakteer. Gratis!!

Oom Willem se Witblits

Witblits is onder die wakende oog van die 86-jarige oom Willem Stemmet van Roberson gestook. Oom Willem is een van die bobaaswitblitsstokers van die Boland.

Eklektiese Versameling

‘n Eklektiese versameling erfgoed van ds. en mev. Erik Vivier van Beaufort-Wes.

Erfgoed

Erfgoed uit die versameling van Christine Bothma van Kuilsrivier.

Ou Afrolmasjien

Die Van Staden-gesin van Kuilsrivier het hierdie baie ou afrolmasjien vertoon. Die laaste dokument wat hierop gekopieer is, is steeds op die masjien. Dis ‘n kennisgewing gedateer 1953 – net mooi sestig jaar gelede.

Spoorwegmemorabilia

‘n Groot versameling spoorwegmemorabilia van Gert Lerm van Kuilsrivier het die gedagtes teruggevoer na die dae toe ‘n waardige plattelandse stasiemeester “sy” stasie seeppglad laat funksioneer het.

Speelgoeduitstalling

Niël du Plessis van Bredasdorp het sy groot speelgoeduitstalling by die ekspo laat pas.

Selfgemeekte Plaaswerktuie

Danie le Roux van Malmesbury – een van die Wes-Kaapse klub se nie- amptelike geskiedkundiges – se versameling selfgemeekte plaaswerktuie (van hout en metaal, en op skaal) sal enige stokperdjieuitstalling of -skou komplementeer.

Wes-Kaap Ekspo 2013

8 tot 11 Augustus 2013

Betalende besoekers deur die hekke

Volwassenes: 3146; skoolgaande kinders: 534. Hierby moet 'n paar honderd klublede en werkers getel word.
Trekkers: 230
Temas: Kruiptrekkers (23); Fergusons (25) ; Massey Ferguson (10)
Plaaslorries and ander plaasvoertuie: 12 (na raming)
Stilstaande enjines: 50 (na raming)
En dan was daar nog meer werkende masjinerie: een eeu oue waterboor, een saagmeul en een klipbreker, e.d.m.

Vrugtebedryf

Die uitstallings en demonstrasies (en die vrugte en droëvrugte wat vir proe uitgedeel kon word!) is baie goed ontvang. Dit het 'n baie hoë standaard aan organiseerders van toekomstige skoue gestel!

Erfgoed

Die demonstrasie van die "vergete vaardighede" - witblits gestook, moskonfyt gekook, kaiings uitgebraai en brood gebak - was baie gewild en het 'n baie goeie indruk by die bewaringsbewustes gelaat. Dit het ook baie bygedra tot die mooi gees wat oral geheers het. Alles in aggenome was die ekspo 'n ongekwalifiseerde sukses.

PRYSWENNERS

Derick Kleynhans

Derick Kleynhans van Heidelberg ontvang ‘n trofee van die Wes-Kaapse voorsitter, Eniel Viljoen. Derick het eerste pryse vir ‘n 1911 Foos en ‘n 1943 Fairbanks Morse gekry. Laasgenoemde wasdie Enjin van die Skou.

Bol Hugo

Bol Hugo van Villiersdorp se 1941 Caterpillar R2 is as die Trekker van die Skou in die Wes-Kaapse kompetisie aangewys. Die Cat is in 1941 nuut deur Bol se pa gekoop. Van die oorspronklike dokumente was ook te sien.

Christie Maree en Raymond Gibson

Christie Maree en Raymond Gibson van Ceres ontvang die Herman Neethling-trofee vir hul bydrae tot die ekspo met hul reeks van 22 Fergusons, Massey-Fergusons en Massey-Harris trekkers wat uitgestal is. Baie Fergusons het outentieke Ferguson-implemente aangeheg gehad.

Izak Smit

Izak Smit van Citrusdal het die eersteprys in die afdeling vir trekker-en-implement in die kompetisies vir die Wes-Kaap én SAVTEK gewen. Van die stuk of 12 veterane wat Izak en sy seun Schalk het, het eers op hul sitrusplaas gewerk, terwyl ander oor sentimentele redes gekoop is.

Petrus Roux

Petrus Roux, eerste voorsitter van die Wes-Kaapse klub, is steeds ‘n gereelde deelnemer aan die Wes-Kaapse ekspo. Met die nasionale skou het hy sy betrokkenheid meer as twintig jaar gelede by die eerste skoue in Clocolan in herinnering geroep. Toe hy ‘n paar jaar gelede sy versameling verkoop het, het hy sy geliefde 1950 Lanz gehou.

Casper Schmidt

 

‘n Vyftienjarige enjinrestoureerder wat pryse saam met volwassenes op ‘n nasionale skou wen, is nie ‘n alledaaagse gebeurtenis nie, maar met Casper Schmidt van Sedgefield is dit moontlik! Die Lister aan die linkerkant van Casper se pa, Danie, is 100 jaar oud.

Copyright © 2015 Wes-Kaap Veteraan- Trekker- en Enjinklub. All Rights Reserved.