Oesdag op Goudmyn 2009

Dit beteken sommer ‘n hele dag met baie om te sien en te beleef. Die dag begin met die demonstrasie van die gebruik van sekels en eindig met ‘n demonstrasie van ‘n ou baler, met omtrent alles van belang tussenin.

Vir die kinders was daar ‘n springkasteel en speelgoed waarvoor Pa moes sak skud. Die groot markiestent het welkome skuiling teen die son verskaf met iets te ete en drinke ook aangebied.

Die aankondiger is heel gevat met beskrywings en kommentaar oor hoe elke werktuig gebruik was.

Dis nie elke man wat die kuns van sekel swaai kan bemeester nie, maar hierdie een het hom goed van sy taak gekwyt.



Daarna was dit oor na die sens. Hierdie aksie is blykbaar nie so maklik om te bemeester as die sekel s’n nie, veral die deurswaai.



Die era van meganisasie word volgende betree met die sny- en dorsmasjiene. Wonder bo wonder is daar net een keer met die snymasjien gestop om ‘n klein foutjie te herstel.

Uiteindelik is daar gerwe om hoop te pak. “Pak die gerwe met die stoppels aan die reënkant en die are aan die ander kant om moontlike skade te verhoed,” was die verduideliking van een van die kenners. Wanneer daar skape in die kamp is, word die gerwe in sirkels gepak met die stoppelkant buitentoe om te voorkom dat die are gevreet word.



Die gerwe word met die wa en ses perde aangery na die dorsmasjien – of blikbak – soos dit ook bekend is. Heel oggend al het die Farmall M nie probleme gegee nie, maar toe die dorsery moes begin, verseg hy om te vat. Weer die raad van die omstanders: “Paraffien werk nie goed nie, gryp die Farmall Diesel wat die baler moes trek, en sit hom voor.” Eindelik is ons aan die dors.

Daar was so ‘n effense briesie wat gehelp het om die ergste stof weg te waai en mense af te koel.

Daarna kom die jonger uitvindings aan die beurt. Dis die Sunshine en McCormick stropers deur trekkers getrek. Sleepstropers. Die selflopers van die dag was die Case SP12 (met sy Van Niekerk & Krupp ontwerpte rolvlerk), die McCormick 403 en Ransomes. Daar is darem nog manne wat weet hoe om saknaalde te hanteer, al sukkel dit so effens met die eerste sak se toewerk.

Geen oesdag is klaar voordat daar nie eers gebaal is nie, maar waar is die draad? Skarrel bietjie rond om draad te kry, maar eindelik kan ons 2 bale “press” Dis nou nie die standaard lengte nie, maar wie gee nou om? Alles gaan mos eintlik oor die “onthou jy nog?” en “my pa/oupa het vertel van…”.



Op hierdie manier hou ons die geskiedenis lewendig vir die nageslag en bring sommer mense saam vir ‘n dag se lekker kuier.

Vir ietsie ekstra was daar ‘n paar trekkers en ou motors eenkant te sien. Sommige besoekers sien so ‘n oesdag as die ideale geleentheid om hul eie veteraanvoertuie of trekkers af te stof en so ‘n bietjie ten toon te stel. Bewonderaars is daar baie!

Net vir die vergelyking is daar toe met die plinternuwe New Holland, met sy tafel wyer as ‘n plaaswerf, ingespring om te wys hoe word dit vandag gedoen. Nie veel verskil in die manier nie, net die spoed. Al’s is deesdae op ‘n drafstap.

‘n Lekker dag om te onthou!

(teks en foto’s deur Pierre Krige)

Copyright © 2015 Wes-Kaap Veteraan- Trekker- en Enjinklub. All Rights Reserved.