Oes Dae

Oesdag op Goudmyn 2009

Dit beteken sommer ‘n hele dag met baie om te sien en te beleef. Die dag begin met die demonstrasie van die gebruik van sekels en eindig met ‘n demonstrasie van ‘n ou baler, met omtrent alles van belang tussenin.

Vir die kinders was daar ‘n springkasteel en speelgoed waarvoor Pa moes sak skud. Die groot markiestent het welkome skuiling teen die son verskaf met iets te ete en drinke ook aangebied.

Die aankondiger is heel gevat met beskrywings en kommentaar oor hoe elke werktuig gebruik was.

Dis nie elke man wat die kuns van sekel swaai kan bemeester nie, maar hierdie een het hom goed van sy taak gekwyt.



Daarna was dit oor na die sens. Hierdie aksie is blykbaar nie so maklik om te bemeester as die sekel s’n nie, veral die deurswaai.



Die era van meganisasie word volgende betree met die sny- en dorsmasjiene. Wonder bo wonder is daar net een keer met die snymasjien gestop om ‘n klein foutjie te herstel.

Uiteindelik is daar gerwe om hoop te pak. “Pak die gerwe met die stoppels aan die reënkant en die are aan die ander kant om moontlike skade te verhoed,” was die verduideliking van een van die kenners. Wanneer daar skape in die kamp is, word die gerwe in sirkels gepak met die stoppelkant buitentoe om te voorkom dat die are gevreet word.



Die gerwe word met die wa en ses perde aangery na die dorsmasjien – of blikbak – soos dit ook bekend is. Heel oggend al het die Farmall M nie probleme gegee nie, maar toe die dorsery moes begin, verseg hy om te vat. Weer die raad van die omstanders: “Paraffien werk nie goed nie, gryp die Farmall Diesel wat die baler moes trek, en sit hom voor.” Eindelik is ons aan die dors.

Daar was so ‘n effense briesie wat gehelp het om die ergste stof weg te waai en mense af te koel.

Daarna kom die jonger uitvindings aan die beurt. Dis die Sunshine en McCormick stropers deur trekkers getrek. Sleepstropers. Die selflopers van die dag was die Case SP12 (met sy Van Niekerk & Krupp ontwerpte rolvlerk), die McCormick 403 en Ransomes. Daar is darem nog manne wat weet hoe om saknaalde te hanteer, al sukkel dit so effens met die eerste sak se toewerk.

Geen oesdag is klaar voordat daar nie eers gebaal is nie, maar waar is die draad? Skarrel bietjie rond om draad te kry, maar eindelik kan ons 2 bale “press” Dis nou nie die standaard lengte nie, maar wie gee nou om? Alles gaan mos eintlik oor die “onthou jy nog?” en “my pa/oupa het vertel van…”.



Op hierdie manier hou ons die geskiedenis lewendig vir die nageslag en bring sommer mense saam vir ‘n dag se lekker kuier.

Vir ietsie ekstra was daar ‘n paar trekkers en ou motors eenkant te sien. Sommige besoekers sien so ‘n oesdag as die ideale geleentheid om hul eie veteraanvoertuie of trekkers af te stof en so ‘n bietjie ten toon te stel. Bewonderaars is daar baie!

Net vir die vergelyking is daar toe met die plinternuwe New Holland, met sy tafel wyer as ‘n plaaswerf, ingespring om te wys hoe word dit vandag gedoen. Nie veel verskil in die manier nie, net die spoed. Al’s is deesdae op ‘n drafstap.

‘n Lekker dag om te onthou!

(teks en foto’s deur Pierre Krige)

Oesdag op Brakfontein 2009

Op 12 Desember 2009 was dit die 8ste keer dat ‘n oesdag in die Suid-Kaap gehou is. Dis is op Emile Cronjé se plaas Brakfontein naby Riversdal, waar sy groot versameling veteraan oesmasjinerie en trekkers bewaar en versorg word.

Op Brakfontein se plaaswerf staan ‘n klomp ou “skatte” reggetrek vir die dag se gebeure – ‘n dag vol herinneringe en nostalgie. Ander staan daar moeg, opgewerk, en as herinnering van hoe mense, soms met ‘n groot gesukkel, ‘n boerdery aan die gang gehou het.

Die son sit nog nie baie hoog nie, maar die Cronjé’s en klublede van Suid-Kaap sit hand by om te sorg dat alles reg is vir die dag.

Sommer gou is al die staanplekke onder die bloekombome beset met rygoed. En die mense kom wyd: Kaapstad, Villiersdorp, Mosselbaai, George, Oudtshoorn, en wie weet waarvandaan nog oral.

Die “hoofkarakters” word net gou weer nagegaan. Magneto’s en brandstoftenke word bekyk, en na so ‘n effense getjoi-tjoi van ‘n “starter” klop die ou Hanomag se dieselhart sommer lekker. Aan die ander kant van die werf word die International I9 se slinger gedraai, en met die derde draai knor die ou siel ook.

Derrick Kleynhans, Suid-Kaap se “hoof-enjinman”, vroetel en troetel nog hier en daar aan ‘n “main-jet” en “choke” en sommer goukyk toe “waf-waf” en “doef-doef” daar ‘n paar van sy en die ander enjinmanne se “vertroeteldes” – enkelsilinderenjins wat ook hulle deel op ons plase gedoen het met waterpompe, voermeulens en kragopwekkers.

Binne-in die een stoor is die smidswinkel ook al opgestel, en die Wolseley enjin laat sing die blaasbalk. Die steenkoolvuur vlam al met so ‘n rooigeel tong, en die ysters kry al kleur.

Ronnie Crowther se Fordson Major Diesel word opgekommandeer om ‘n koringmeultjie aan te dryf. Net vir gou draai die band, en daar skuur die meul. Met ‘n ligte hand word ‘n straaltjie koring ingegooi, en sif die wit, gemaalde koringmeel eenkant uit.

Oral staan groepies mense rond en kyk na die ou trekkers en stropers. Iemand maak die opmerking dat dit jammer is dat daar nie ‘n Vaaljapie te sien is nie. “Nee wat jong, mens wil nie onnodig staan en sukkel op ‘n oesdag nie,” skerts ‘n oom sommer so oor sy skouer.

Sommige besoekers kry sommer so ‘n ver-af kyk in die oë as hulle so tussen die ou gereedskap deurloop. By ‘n stroper staan twee manne diep in gesprek oor hoe jy nou die Sunshine se wind moet stel, en hoe die mes gelig moet word. Jongmense kom aandagtig luister as die ooms vertel hoe die snymasjiene aangedryf is deur die grootwiel. “As die knopers werk, los dit net so. Moenie daarmee peuter nie, anders gaan jy die res van die dag daarmee sukkel” doen een oom aan die hand. Wyse raad.

Kinders baljaar tussen die trekkers en stropers rond, en oupa’s loop trots met kleinkinders rond om die kleingoed die ou goed te wys en te vertel.

Die Cronjé’s het weer die besondere Gleanertjie saam met die gerestoureerde Case uitgetrek. Blink gepoets skitter hulle tussen die ander stropers – Massey-Harris’e en Sunshines, ‘n John Deere en ‘n hele paar Internationals. Reg vir die aksie wat gaan volg.

Vir oulaas word die snymasjiene se seile styf vasgegespe, en word nog ‘n rol selfbindertou nader gebring. By een van die stropers is twee man besig om solank saktoue te maak vir die toewerk van die sakke.

Die dag se verrigtinge word in afhanklikheid opgedra aan ons Hemelse Vader vir Sy seën en beskerming. Boere wat lief is vir die grond, leef mos na aan hulle Skepper…

Aksie!

“Wie kan nog met ‘n sekel sny?” kom die vraag. “En wat van ‘n sens?” vra nog iemand.

Land toe, waar jongmanne hulle hand aan die sekel slaan, en iemand gou reghelp as die vat en sny bietjie rof gaan. “Ses handevol is ‘n gerf, en 25 gerwe is ‘n sak,” laat weet ‘n ingeligte vanuit die toeskouers, bankvas op die kant van die land. Die sens word ook beproef, en dit gaan effens beter as met die sekels. Iemand wys gou hoe ‘n gerf met ‘n mandjiesgoedtou gebind word, en ‘n ander een weer hoe ‘n klompie graanhalms vir dieselfde doel gebruik kan word.

Die snymasjien-manne staan nader, en algou is elkeen op sy sitplek. Al die hefbome van die snymasjien word weer aan die snymasjienman uitgewys: “Hierdie is die waaiers se op en af, en dié een is vir die mes,” word daar verduidelik. Die wegtrek is op ‘n stadige stappie. ‘n “Hoo-ou!” word kort-kort gehoor soos wat die manne die masjien leer ken op die eerste rondte. Net vir gou het die manne hul slag gevind, en met reëlmaat dop daar elke drie tot vier tree ‘n gerf uit. Nog ‘n snymasjien kom by, en die land word gou vol gerwe. Die Fordson Bloubottel is voor die gerwewa. Aan vrywilligers om gerwe te laai, is daar nie ‘n tekort nie. Na rukkie is die gerwe gelaai, en nadergebring tot by die twee dorsmasjiene.

Die Moline laat die McCormick Deering blikbak sing, en die manne op die wa gooi die gerwe op die elevator. Goudryp gerwe word met ‘n gedreun en ‘n geskud omgeskakel na kaf-op-‘n-hoop en graan-in-die-sak. Die Moline se “governer” (spoedreëlaar) maak oop en toe soos die gerwe deur die dorsmasjien gevoer word. Dis wat die mense wou sien, en die kring entoesiaste om die dorsmasjien is nie teleurgestel nie. Kort-kort kom daar iemand nader, steek die hand onder die stroom graan in en bekyk dit met ‘n kennersoog. En met daardie hand vol graan kan die manne net daar vir jou sê hoe die oes gaan wees…

Die wa se vrag gerwe is amper te gou deurgewerk. Die stapel sakke aan die agterkant van die dorsmasjien en die hoop kaf aan die voorkant vertel elkeen hul eie storie.

Dan verskuif die aksie na die blink Massey-Harris dorsmasjien. Die International I9 se slinger word gedraai, en daar knor die I9, sommer nog so in sy “werksklere”. Sonder enige fieterjasies, rekenaar of GPS weet die I9 waar hy staan en wat hy moet doen.

“Dit brand!” Rook borrel uit die !9. Emile gee die vuur in I9 ‘n doodskoot uit ‘n kannetjie water. En die oorsaak? ‘n Muisnes bo-op die “manifold”.

Emile praat mooi met die muise wat die kaf en takkies daar ingedra het, en verwyder die bron van die kwaad. (Geen muise is beseer tydens die verwydering van hul habitat nie.) Slinger in, en draai. Nog ‘n keer! Daar knor die I9 weer, en word daar verder gedors. Dié keer sonder enige verdere opwinding.

Die muisnes is darem nie al wat gebrand het nie. Vroeër is daar al vuur aangesteek en wors gebraai. Die hongeriges moet gevoed word. Wat is enige boeredag dan sonder braaivleis en koffie?

Ná die middagete is dit land toe.

Die twee Sunshine sleepstopers het die eer om die land oop te maak, en met hulle kenmerkende gebrom stroop hulle die eerste rondte. Emile het intussen ook die 1934 selfloper Sunshine aan die gang gesit, en met sy stadiger 4-silinder Wisconsin enjin ook die land ingevaar. Emile sit so op die punt van die sitplek en bekyk die mes en die aksie van bo af, terwyl hy die komieklike skuins stuurwiel moet gebruik om rigting te hou. Toe ‘n volgende stroper verbydreun, besef ons dat op dae soos hierdie op Brakfontein die verlede nog hede is. Ek staan tussen ‘n paar manne wat die aksie vanuit die middel van die land af afneem. Almal is met ‘n amperse heilige ontsag vervul. By een is daar openlik trane in die oë by die herinneringe van ‘n pa wat die stropers verkoop het, en later sy eie stroper ontwerp, gebou en verkoop het.

Nou is dit die beurt van die ander stropers: Die Gleanertjie kom brom ook verby met sy Wisconsin V4-enjin. En al die ander selflopers.

Jongmense pak behoorlik die ou stropers vol om deel te wees van die aksie. Of is dit vir die saamry? Die sakmodelle het darem elkeen ‘n sakman of twee aan boord, en sommer gou sien jy net hoe die sakke met saknaald en tou toegewerk word. ‘n International platsnyer maak ook ‘n rondte of twee vir graanhalms vir die stropers met optellers. Die ry daar agter lê blink in die middagson en wag vir die “opvreters” wat agterna kom.

Die klank van die veterane is musiek in die ore: Die 6-silinder Chrysler syklepenjins in die Massey-Harris’e het ‘n klank anders die Internationals se 4-silinderenjins, en die Case se 4-silinderenjin het weer sy eie ritme. Dit stroop omgang vir omgang. Die sakmanne werk toe en tip die sakke met reëlmaat af, en te gou is die twee lande se graan afgesny, geskud, gesif en gesak.

Een vir een koers die oues terug werf toe, so asof in ‘n triomftog, en as hulle kon praat, sou mens seker kon hoor: “Ja! julle kan mos sien ons weet nog hoe, en ons HET!” Al wat kortgekom het, was ‘n erewag met formele saluut.

Nou word daar laaimanne gevra. ‘n Lekker klomp manne kom nader, en al skertsend word die sakke opgelaai. Emile se geel Chev sug nie vir die taak nie, en aan die soliede knars van die ratte kan mens hoor dat daar nog baie yster in die pype is – Emile én die Chev s’n!

Té gou moet ons groet, en skielik was die stilhouplek onder die ou bloekoms weer leeg.

Die Soilmaster

Eenkant op die werf staan ‘n verblykte rooi stroper waarvan ‘n paar stukke kortkom. ‘n Man loop rondom en neem foto’s. Ek stap nader. “Wragtag, dis een van die laaste Soilmasters,” sê die vreemdeling vir my. Vir ‘n lang ruk is hy stil, loop om die verbleikte stroper, kyk hier, vat daar, vee met sy vinger oor die naamplaatjie om meer detail te sien. Dan draai hy om, kyk so oor die plaaswerf na die duine se kant, haal sy sakdoek uit, en droog ’n traan af. Die Soilmaster is een van die modelle wat sy pa hier in Suid-Afrika ontwerp het. Hy wys my nog die detail uit waarvan sy pa hom vertel het. Dis Koos Human aan die woord.

Ek word stil. Die gedagte kom by my op: Hoeveel van ons jong manne sal oor 40 jaar nog kan kom kyk na ‘n ou stroper? En wat is die kans dat jy by ‘n stroper sal staan wat jou pa ontwerp het?

Wat bly oor? Net om dankie te sê: Dankie aan die Cronjés van Brakfontein, Emile en Len, en al hulle helpers en ondersteuners! Dit was ‘n puik dag. Dankie aan die Suid-Kaapse klub. Julle doen voortreflike werk.

As die Here wil, maak ons volgende jaar weer so.

Sien julle op Brakfontein in Desember 2010!

[Foto’s en artikel deur Thys de Wet, Somerset-Wes.]

[Volledigheidshalwe is sommige foto’s van vorige oesdae gebruik.]

Copyright © 2015 Wes-Kaap Veteraan- Trekker- en Enjinklub. All Rights Reserved.